Sunday, 3 August 2014

Ewige Inwoner

Gister het ek gehoor Tannie Liz is oorlede.
As jy nie weet wie dit is nie, sy was die laaste inwoner van De Mond Karavaanpark. Sy en haar yorkie, Jody.
ʼn Paar maande gelede het ek na die karavaanpark se hek toe gery om te kyk hoe dinge lyk en gaan. Die wag by die hek het gesê dat niemand verby die valboom mag kom sonder ʼn afspraak nie. Maar, ek kan vir Liz bel en uitvind of sy my sal sien.
Sy het onmiddelik ja gesê, al ken sy my nie. Dalk was dit vir die geselskap.
Die wag het die valboom maar stadig gelig en selfs saam met my na Liz se huis toe gery.
Jody was eerste om my te kom groet, en kort op sy hakke was die tannie in die wit polar fleece trui.
Groot was ons verbasing toe ons altwee mekaar erken.
Ek moes verlede jaar ʼn foto van iemand neem vir ʼn fotojoernalistiek-klas. Na ure se rondry en loop kry ek die witkop-tannie by Voëlklipstrand. Sy was besig om die Rapport te lees en Jody het agterop die kar se sitplek gelê. Rustig en onbewus van die slegte nuus in die koerant.
Liz en Jody Foto: Dayne Nel
Sy was geduldig toe ek die foto neem. Terwyl ek alles probeer onthou wat ek in die klas geleer het van raming en komposisie. Kliek en totsiens. Ek het gery sonder om haar naam te vra.
Maar, ʼn paar maande gelede staan sy weer, hier in De Mond Karavaanpark, voor my. Haar naam is Lizette Theron, laaste inwoner van De Mond Karavaanpark.
“Ek het altyd gewonder wat van daai foto geword het,”sê Liz terwyl ons in die klein vakansiehuisie instap. Iewers blêr RSG, en ek wag maar tot sy dit sagter sit voor ek verder praat.
Haar huis was netjies. Daar was geen vuil skottelgoed, die beddens in die twee slaapkamers was mooi opgemaak en nie ʼn krummel in sig nie.
Ons het deurgeloop na ʼn sonkamer toe. Daar staan ons saam in die houthuisie met dié mooiste uitsig oor die lagune.
Hiér is dit stil. Dit was laatmiddag toe ek die eerste keer ʼn draai gaan maak het. Die son het op die lagune weerkaats en van waar ons gestaan het kan mens die muggies se kringe op die water sien.
“Ek kan sien hoekom tannie wil bly,”sê ek vir haar.
“Waarheen anders moet ek gaan?” antwoord sy.
Ons sit en praat toe ʼn hele ruk oor haar huis en hoe die pad vorentoe lyk. Want kyk, sy moet Augustus uit.
De Mond Karavaanpark was in Desember 2012 ontruim. Na ʼn skikking in die hof kon net drie mense daar bly. Liz Theron, Hanna Auret en Keith Hampshire.
Keith bly nou by sy dogter in Durban, en daar was al by sy huis ingebreek, Hanna kon na ʼn berig in Die Burger haar huis verkoop, daar was ook al ingebreek, en toe bly net Liz oor, met ʼn vrees dat hulle ook by haar sal inbreek.
Soveel soos wat haar huis vir haar ʼn toevlug was, was sy vreesbevange.
“Ek slaap nie in my kamer nie, ek slaap op die bank, want ek is bang die boomtakke val op my dak,”vertel sy.
“Die wag by die hek patrolleer ook nie die park nie, hy moet net seker maak die mense bly uit.
“As mense weet dit is net ek wat hier bly, kan hulle my kom doodmaak en niemand sal weet nie.”
Liz het later met ADT gereël om daar verby te ry. Hoewel sy nie ʼn kliënt was nie, het hulle goedhartig ingestem.
My kuiertjie by tannie Liz daardie eerste keer was kort, maar ek het belowe dat ek sou terugkom. En ek het.
Terwyl ons oor die volgende paar maande gepraat het, het ek van De Mond se hey day gehoor.
Naweke was veral lekker, want almal het saam gekuier.
En nou, nou is naweke pynlik eensaam.
Sy vertel hoe sy spesiale toestemming moes kry vir kuiergaste om later as 17:00 in die park te bly of oor te slaap.
Om haar is net die oorblyfsels van gelukkiger dae.
Als is gestroop. De Mond Karavaanpark lê op ʼn hoop. Op-ge-hoop. Geen hoop.
Binne Liz se huis is foto’s van haar stiefseun, Jody en haar man.  
Tydens my laaste kuiertjie, het ons vir lank gesit en praat oor die toekoms. Ek het haar gevra waar sy sou wou bly.
“Ek wil net in Hermanus bly,”sê sy terwyl ons na die lyste kyk wat die munisipaliteit vir haar gegee het. Alternatiewe akkommodasie, nie een in Hermanus nie, en nie een wat sy met haar staatspensioen kan bekostig nie.
Toe ek daardie laaste keer ry het ek nie besef dat ek nooit weer vir tannie Liz sou sien nie. By die valboom sien ek die groot glyplank in my spieël en wonder hoe dinge gaan eindig.  
Tannie Liz het vir haar reg om in haar huis te bly geveg. Min sal haar onthou, maar meer is bly sy is weg.
Jy wen tannie, jy het toe nooit getrek nie.

Lees meer hier:
Laaste inwoner van De Mond-park sterf
Laaste drie verlaat woonwapark
De Mond staan al twee jaar leeg
Gevangene en 'n banneling
Herontwikkeling van De Mond nog nie gefinaliseer

2 comments:

  1. Sit ek dan nou hier en tjank. Wel geskryf Dayne!!

    ReplyDelete
  2. Aai Dayne, baie dankie dat jy vir haar gaan kuier het. Dit was inderdaad goeie ou dae... Helaas. Mooi geskryf, dankie. Heidi

    ReplyDelete

Please keep comments clean.