Click here for more photos.
Tuesday, 12 August 2014
Sunday, 3 August 2014
Ewige Inwoner
Gister het ek
gehoor Tannie Liz is oorlede.
As jy nie weet
wie dit is nie, sy was die laaste inwoner van De Mond Karavaanpark. Sy en haar
yorkie, Jody.
ʼn Paar maande gelede het
ek na die karavaanpark se hek toe gery om te kyk hoe dinge lyk en gaan. Die wag
by die hek het gesê dat niemand verby die valboom mag kom sonder ʼn afspraak nie. Maar, ek kan vir Liz bel en uitvind
of sy my sal sien.
Sy het onmiddelik
ja gesê, al ken sy my nie. Dalk was dit vir die geselskap.
Die wag het die
valboom maar stadig gelig en selfs saam met my na Liz se huis toe gery.
Jody was eerste
om my te kom groet, en kort op sy hakke was die tannie in die wit polar fleece
trui.
Groot was ons
verbasing toe ons altwee mekaar erken.
Ek moes verlede
jaar ʼn foto van iemand neem vir ʼn fotojoernalistiek-klas. Na ure se rondry en loop
kry ek die witkop-tannie by Voëlklipstrand. Sy was besig om die Rapport
te lees en Jody het agterop die kar se sitplek gelê. Rustig en onbewus van die
slegte nuus in die koerant.
| Liz en Jody Foto: Dayne Nel |
Sy was geduldig
toe ek die foto neem. Terwyl ek alles probeer onthou wat ek in die klas geleer
het van raming en komposisie. Kliek en totsiens. Ek het gery sonder om haar
naam te vra.
Maar, ʼn paar maande gelede staan sy weer, hier in De Mond
Karavaanpark, voor my. Haar naam is Lizette Theron, laaste inwoner van De Mond
Karavaanpark.
“Ek het altyd
gewonder wat van daai foto geword het,”sê Liz terwyl ons in die klein
vakansiehuisie instap. Iewers blêr RSG, en ek wag maar tot sy dit sagter
sit voor ek verder praat.
Haar huis was
netjies. Daar was geen vuil skottelgoed, die beddens in die twee slaapkamers
was mooi opgemaak en nie ʼn krummel in sig nie.
Ons het
deurgeloop na ʼn sonkamer toe. Daar
staan ons saam in die houthuisie met dié mooiste uitsig oor die lagune.
Hiér is
dit stil. Dit was laatmiddag toe ek die eerste keer ʼn draai gaan maak het. Die son het op die lagune weerkaats en
van waar ons gestaan het kan mens die muggies se kringe op die water sien.
“Ek kan sien hoekom tannie wil bly,”sê ek vir haar.
“Waarheen anders moet ek gaan?” antwoord sy.
Ons sit en praat toe ʼn hele ruk oor haar huis en hoe die pad vorentoe lyk.
Want kyk, sy moet Augustus uit.
De Mond Karavaanpark was in Desember 2012 ontruim. Na ʼn skikking in die hof
kon net drie mense daar bly. Liz Theron, Hanna Auret en Keith Hampshire.
Keith bly nou by sy dogter in Durban, en daar was al by sy huis ingebreek,
Hanna kon na ʼn berig in Die Burger haar huis verkoop, daar was ook al
ingebreek, en toe bly net Liz oor, met ʼn vrees dat hulle ook by haar sal
inbreek.
Soveel soos wat haar huis vir haar ʼn toevlug was, was sy vreesbevange.
“Ek slaap nie in my kamer nie, ek slaap op die bank, want ek is bang die
boomtakke val op my dak,”vertel sy.
“Die wag by die hek patrolleer ook nie die park nie, hy moet net seker maak
die mense bly uit.
“As mense weet dit is net ek wat hier bly, kan hulle my kom doodmaak en
niemand sal weet nie.”
Liz het later met ADT gereël om daar verby te ry. Hoewel sy nie ʼn kliënt
was nie, het hulle goedhartig ingestem.
My kuiertjie by tannie Liz daardie eerste keer was kort, maar ek het belowe
dat ek sou terugkom. En ek het.
Terwyl ons oor die volgende paar maande gepraat het, het ek van De Mond se
hey day gehoor.
Naweke was veral lekker, want almal het saam gekuier.
En nou, nou is naweke pynlik eensaam.
Sy vertel hoe sy spesiale toestemming moes kry vir kuiergaste om later as
17:00 in die park te bly of oor te slaap.
Om haar is net die oorblyfsels van gelukkiger dae.
Als is gestroop. De Mond Karavaanpark lê op ʼn hoop. Op-ge-hoop. Geen hoop.
Binne Liz se huis is foto’s van haar stiefseun, Jody en haar man.
Tydens my laaste kuiertjie, het ons vir lank gesit en praat oor die
toekoms. Ek het haar gevra waar sy sou wou bly.
“Ek wil net in Hermanus bly,”sê sy terwyl ons na die lyste kyk wat die
munisipaliteit vir haar gegee het. Alternatiewe akkommodasie, nie een in
Hermanus nie, en nie een wat sy met haar staatspensioen kan bekostig nie.
Toe ek daardie laaste keer ry het ek nie besef dat ek nooit weer vir tannie
Liz sou sien nie. By die valboom sien ek die groot glyplank in my spieël en
wonder hoe dinge gaan eindig.
Tannie Liz het vir haar reg om in haar huis te bly geveg. Min sal haar
onthou, maar meer is bly sy is weg.
Jy wen tannie, jy het toe nooit getrek nie.
Lees meer hier:
Laaste inwoner van De Mond-park sterf
Laaste drie verlaat woonwapark
De Mond staan al twee jaar leeg
Gevangene en 'n banneling
Herontwikkeling van De Mond nog nie gefinaliseer
Subscribe to:
Posts (Atom)