In die skadu van die Stellenbosch ashoop, lê die Stellenbosch dierewelsyn. Maar, hierdie is nie ʼn plek van hartseer en leed nie, eerder hoop en ’n nuwe begin vir elke inwoner op die werf.
Die kantore is besig en op enige oomblik kan daar baie dinge gebeur. Nuwe honde en katte kom in, buitepasiënte kry hulp en die diere op die werf kry kos en aandag. Die mense wat hier werk moet fiks wees, want elke hond moet ook vir ’n stappie gaan.
Hoewel dit ’n plek van baie liefde is, kos dit baie om dit aan die gang te hou.
“Dit kos ons jaarliks R2.97 miljoen,” sê Cliff Tager, algemene bestuurder by Stellenbosch Animal Welfare Society (AWS).
“Ons het geld by Helen Zille en by die Stellenbosch Munisipaliteit gekry, maar dit is nie genoeg nie. Ons doen ook 4000 sterilisasies elke jaar.
“Mense bring diere hierheen wanneer hulle nie meer die diere wil hê nie, of mense bel ons as hulle ’n dier in nood sien. Die dier bly dan eenkant vir 14 dae, dan skuif ons dit oor na ons hokke toe. Daarna adverteer ons die hond of kat op ons websites en Facebook sodat die eienaars hom kan kom haal.
“Maar hier is diere wat nooit ’n huis sal kry nie en ons kyk na hulle tot hulle oud is. Ons sit nie graag diere uit nie.”
Colonel is nou al vier jaar by AWS en het selfs sy eie blog, Colonel’s News.
“Colonel sê vir my wat om te skryf,” skerts Tager.
“Ons is hier vir die gemeenskap wat nie geld het nie. Ons het ’n glyskaal waarop ons werk. Mense betaal ’n minimale bedrag. Ons probeer om by almal iets te vat om hulle verantwoordelikheid te leer. ‘n Hond kos geld.”
“’n Hond sal hier aankom en hy sal tattered and torn wees, maar as hy eers deur die hondeherberg (kennel) was, genees hy,” sê Carmen Ackerman, hondeherbergbestuurder.
“Ek staan elke oggend met ʼn jeugdige hart op. Ons moet soms moeilike besluite maak, maar ek het die beste job in die wêreld.
“Die grootste deel van ons werk is skoonmaak, skoonmaak en skoonmaak. Daar is ook baie administrasie aan hierdie plek verbonde.
“Ons is vreeslik aktief op social media. Ons wil ons naam uitkry en vir die honde huise kry. Danksy sosiale media het die aannemings so gegroei. Sosiale media het ’n groot impak gemaak in die laaste jaar-en-’n-half wat ons dit gebruik het.
“Ek is meer nederig en my werk maak my meer dankbaar vir katte en hondjies.”
Ackerman is self ’n groot pitbull aanhanger en sê dat sy ook ’n honde-mens is.
Ackerman wys ’n plakkaat op haar kantoormuur van Taubie. ’n Paar maande terug was Taubie erg mishandel en feitlik dood. Maar deesdae is moeilik om te glo dat dit dieselfde aktiewe en geesdriftige hond is wat ‘n mens buite groet. Sy is nooit ver van Ackerman af nie.
“Dit vat tyd, maar met geduld en liefde, genees alles. Op die ou einde van die dag maak hulle ons heel.”
Die katte word heelagter by AWS aangehou. Daar is ’n groot hok met krappale en katbeddens om die katte besig te hou. Dit lyk soos ’n katparadys.
Binne lê so ses katte met hul werpsels.
“Katte kan oor 8 weke aangeneem word,”sê Elmarie Immelman, katterybestuurder. “Die katjies is baie gewild, maar die groot katte sukkel. Ek hou van katte se selfstandigheid.”
Die finansiële druk van welsynwerk kan hier ook gevoel word.
“Jou katjies eet spesifieke kos. Jy gaan deur stadiums van diarree en behandeling. Dan is daar mediese uitgawes. Maar ons katte is baie gesond.
“Ons koop R3000 se katsand elke maand.”
Immelman ken elke kat se persoonlikheid en geaardheid. Sy loop by elke hok verby en verduidelik waar elke kat vandaan kom.
AWS moedig almal wie kan aan om vir ’n kort tydjie na diere te kyk, of om een aan te neem.
“Die proses was baie maklik,”sê Jaconette Bothma, ’n pleegma van 2 AWS-honde. “Hulle het na ons huis en agtertuin kom kyk en ’n uur later kon ons ons hond gaan haal.
“Ons het gesien dat die AWS mense huise soek om na diere vir ’n kort tydjie te kyk, toe kry ons vir Nonna. Nonna was saam met ’n ander hond buite ’n skool vasgemaak. Al wat hulle geëet het was die kos wat kinders hul kant toe gegooi het.
“Ons het haar huis toe gevat om net vir ’n kort tydjie na haar te kyk, maar besluit toe om haar aan te neem. Ons het nou ook Nonna se maatjie aangeneem. Hulle is onafskeidbaar en hulle eet alles! Veral my groente in my tuin, maar ons is so lief vir hulle.”
Kontak AWS op 021 886 4901 of gaan kuier vir jou nuwe hondekind of kattemater op die Devon Valley pad in Stellenbosch.
No comments:
Post a Comment
Please keep comments clean.